Meer as net ‘n drama geek!

Soos geskryf vir Die Reviewer                                           deur Ruan de Ridder

Oor hom: Christopher van der Westhuizen

Christopher van der Westhuizen is nie jou normale matrikulant van 2016 nie.  Die graad 12 leerling van Hoërskool Randburg is eersdaags te sien in die film, ‘Jou Romeo’, wat op 23 Desember landswyd vrygestel word.  Christopher is gebore op 5 Oktober 1998 en was as kind baie anti-sosiaal en skaam, daarom het sy ouers hom op die ouderdom van elf vir dramalesse gestuur met die hoop om sy ego ‘n hupstoot te gee.  Nóú, ‘n paar jaar later, was hy al te sien in die films Die Ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom (Amos) en Agent 2000: Die Laksman (Pieter), maar sy eerste amptelike hoofrol is as Tyler Le Roux in André Velts se ‘Jou Romeo’. 

Christopher vind die menslike toestand en hoe dit ons as mens aan die gang hou baie interresant.  Hy hou ook daarvan om te skryf en om ‘teaterale eksperementasies’ te doen, soos hy dit noem.  Sy groot passie (behalwe vir akteurswerk) is musiek, veral Jazz.  Tans is hy besig met sy Graad 7 Saksofoon Unisa eksamen.  Dan is hy nie klaar nie, hy doen stemwerk vir RSG se weeklikse radiodrama, Ratels deur Leon van Nierop, sowel as ‘n vollengte radiodrama, Baron in die Bome met Richard van der Westhuizen.

“Egheid.  Elke nou en dan vang mens jouself dat jy nie jy is nie, dan maak jy dit reg, maar om konstant na dit toe te kan streef is iets wat ek graag sal wil hê mense moet van my dink.”  Van toekomsdrome gepraat is daar nie op die oomblik veel nie, maar hy sal graag binne die volgende vyfjaar nog wil leer en groei in die medium waarin hy hom tans bevind.

Oor sy rol in ‘Jou Romeo’: Tyler le Roux

Hy vertolk die rol van Tyler Le Roux, ‘n regte ‘dramadrip’ soos die ‘jocks’ hul noem.  Van graad agt af is sy karakter ‘n buitestaander in die skool en hy en sy beste vriendin, Yvette Verwey (Elani Dekker), vind hulle veilige plekkie in die skool se dramagroep.  In sy matriekjaar word hulle planne om Romeo en Juliet op te voer in die wiele gery wanneer hulle hoor hulle befondsing word vir die krieket gebruik.  Hy en sy beste vriendin moet dan ‘n nuwe plan beraam sodat die produksie kan voortgaan.  Die plan sluit Ruan Wessels se Marko Marais, die skool se kranige krieketspeler, in en uit die aard van die saak vind daar konflik tussen dié twee se karakters plaas wanneer Marko, Tyler se heilige grond (die dramagroep) betree.

Christopher noem dat Tyler die ‘vlammetjie stook om die vuur van die warm storie’ en dat sy karakter dwarsdeur die film sy beste vriendin (Yvette) ondersteun in die emosionele warboel waarin sy haarself bevind.  Sy karakter se karakterontwikkeling is die van onderdrukte tot maghebbende en Tyler kry ook ‘n ‘reality check’ van sy plek in die samelewing.

Wanneer daar gevra word oor die ooreenkomste tussen Christopher en sy karakter (Tyler) word daar dadelik genoem dat hulle beide ‘n sterk gevoel het oor vriende wat familie word.  Die vlak van woede en die manier oor hoe sy karakter konflik hanteer is die verskil tussen hom en Tyler.  Persoonlik as Christopher glo hy mens moet nie aan die tipe van ding vasklou nie, maar Tyler hou aan sy’ne vas soos ’n ‘chappie onder aan sy tekkie’.  Dié verskil tussen die twee was ook vir hom die moeilikste aspek om reg te kry tydens die skiet van die film.

Algemeen

  1. Wat geniet jy meer tussen radio dramas, verhoog of rolprente?

Dit was vir my ’n groot voorreg om al in al drie dié velde te kan werk as akteur. Elkeen het iets in gemeen maar tog ook groot konstraste in voordragstyl. Elkeen vertel ’n storie wat mense by hulle menswees moet ontmoet. Dit is baie moeilik om te kies watter spesefieke een die lekkerste is.  Met radio het dit alles te doen met die energie in jou stem. Kan mens dit oordra.  Met verhoog is daar ’n ‘larger than life’ element wat in gedagte gehou moet word, maar tog nie so groot dat jy die intimiteit van die teater verloor nie.  Film is “up cose and personal”, subtiele gebare en rou emosies word verwag.  As ek moet kies, sou ek sê geniet ek al drie amper ewe veel, maar eerste sou film wees. Dit is tog wat eerste gekom het vir my. Dit is waar die journey vir my begin het en daarom, dink ek, vind ek soveel aanklank daarmee.  Ek onthou toe ek jonger was sou ek lank sit en video na video kyk.  Teater se energie is ongelooflik, om ’n lewendige gehoor te hê wat voor jou sit en vir jou energie gee is iets besonders, mens kan ook soveel ekperimenteer met teater en dit sal jou nie soveel geld uit die sak uit jaag soos by film nie.  Radio kan jy nóg meer eksperimenteer want jy gebruik ’n gehoor se geestesoog, maar film bly vir my die mees intiem van die drie.

  1. By watter produksie het jy die meeste geleer (en wat was dit)?

Op hierdie produksie, Jou Romeo, voel ek het ek die meeste geleer van die dieper geestesgesondheid wat kom saam met die beroep.  Om die emosies rou vir ’n gehoor te gee. Minder te dink oor hoe en net te wys wat. As ek aan vorige produksies moet dink san sal ek sê baie van my teater werk saam met my mentor Johan Swannevelder. Hier het ek die basis geleer van die kuns, jou vorm, jou karakters, hoe om emosie oor te dra, hoe om ’n karakter effektief te word. Hy het vir my baie geleer en sonder sy insig sou die denkwyses van Jou Romeo nie soveel gewig gedra het as wat dit doen nie.

Oor ‘Jou Romeo’

  1. Waaroor gaan Jou Romeo vir jou?

Jou Romeo gaan oor Hoërskool kinders. Daai tyd in mens se lewe waarin jy die onsekerste is oor waar jy inpas.  Dit ontmoet ons daar en wys dat elkeen sy/haar eie plek mag vind, en op die pad daarnatoe mag jy foute maak. Moet jy foute maak.  Nie jouself jammer kry omdat jy dit doen nie, maar om te ontdek dat dit is hoekom ons hier is.  Dit is waaroor die film gaan vir my.

  1. Waarom moet mense ‘Jou Romeo’ gaan kyk?

Ek wat nou klaarmaak met my hoërskoolloopbaan sou hierdie boodskap wou gehaad het. Dit sou soveel misverstande en onsekerheid binne myself opgeklaar het. Maar nie net in hoërskool nie, ook in die wyer aspek van lewenslus in gemeen. Bonop is dit humoristies aangewend en baie vermaaklik.

  1. Wat maak die film interresant of anders as ander Afrikaanse films?

Relevansie. Soveel Afrikaanse films deesdae word gedoen as of dit vir ’n gehoor twee jaar tevore dien. Jou Romeo is relevant vir vandag se mense, vandag se tieners.  Facebook, blogging, whatsapp, moderne skool politiek, moderne verhoudings. Dit word alles op ’n puik manier uitgebeeld.  Storie gewys is daar ook ’n hele paar konkels in die verhaal. Nes jy dink jy weet wat aangaan verander dit.

  1. Wat geniet jy die meeste van die hele verfilming?

Die genot op stel en voor die kamera wat kom van die gemak tussen al die akteurs en tegniese span. Dit is ’n akteur se droom, want dan is daar nie skaamte nie, en kan die kreatiwiteit vloei. Dit is ’n baie lekker projek om aan te werk.

Kies een van jou ‘cast members’

  1. Akteur/Aktrise by wie jy die meeste geleer het?

die Regisseur, André Velts

  1. Akteur/Aktrise waarmee jy die meeste tyd saam spandeer op die stel.

Elani Dekker

  1. Akteur/Aktrise waarmee jy die meeste tyd saam spandeer wanneer julle nie verfilm nie.

Elani Dekker

  1. Akteur/Aktrise wat jy die graagste mee wou werk.

Ruan Wessels.

  1. Akteur/Aktrise wat vir jou die aantreklikste is.

Shucks jy gaan my in die moeilikheid kry by my meisie jong…

 

Daardie vyf ‘vinnige’ vrae?

  1. Wie inspireer jou die meeste en waarom?

My ouma. Haar energie en lus vir die lewe, onskuld gepaard met wysheid. Ek sal graag eendag soos sy wil wees.

  1. Jou ‘words-to-live-by’ (Qoute of gesegde)

Aan Hom wees die Glorie.

  1. Drie persone wat jy nog graag wil ontmoet of wou ontmoet indien hulle oorlede is en die rede hoekom.

Hugh Jackman: Hy het dit reggekry om sy menslikheid en standvastigheid te hou in ’n bedryf waarin dit moeilik is. Ek sou wou weet hoe. En natuurlik dis

HUGH JACKMAN!

C.J. Langenhoven: Hy was wys gewees. Om saam met hom om ’n vuurtjie te gesels en “kleinpraatjies” te deel sou iets buitensporigs gewees het.

Maya Angelou: My Rolmodel. ’n Sterk vrou wat heelwat geweet het van die lewe.

  1. Dit wat jou die gelukkigste maak in die lewe?

Die mense wat my omring. Die vriende wat Familie geword het.  Asook die ongeloflike buzz, die gevoel van lewe wat ek kry wanneer ek werk in die medium.

  1. Advies aan jong akteurs wat dit in die bedryf wil maak.

Ek skat ek is self ook ’n jong akteur. Maar vir ander, wat ek geleer het: Vind uit wie jy is voor jy te ver gaan.  Jy moet altyd terugkeer na jouself aan die einde van ’n produksie.  Behou ’n mate van standvastigheid om sodoende nie jouself in iets te verloor vir te lank nie. Dit is moeilik, die pad is lank met min prys. Jy gaan nie altyd lus wees nie, maar jy gaan moet doen.  Laastens: Doen. Doen soveel as moontlik. Sê ja soveel as wat jy kan. As jy ongemaklik voel, sê ja, solank jy nie jouself prys gee in die proses nie. Mens leer soveel deur om te doen. So hou aan doen!

Voltooi:

  1. Ek het geen tyd vir…

Onregverdigheid nie.

  1. Ek het die wêreld se tyd vir…

Konstruktiewe, relevante geselskap.

  1. Drama is vir my…

’n Direkte band met my eie menslikheid. Wie ek is, ek kan nie daarsonder nie.

Film Factory se sukses in die rolprentbedryf word gestaaf deur lokkettreffers soos Vir Altyd, Hoofmeisie, Pad na jou Hart, Ballade vir ‘n Enkeling en Roepman. Na twee jaar se harde werk stel hulle op 23 Desember die nuwe tienerfilm ‘Jou Romeo’ bekend.  Tina Kruger, Danie Bester en Berdene Burger het saamgespan om die teks te skryf en André Velts is die regisseur.  Die film is geskiet by Hoërskool Monument in Krugersdorp en het ander bekendes soos Diaan Lawrenson (Juffrou Goosen), Pierre Breytenbach (Kirby) en Dirk Stoltz (Wicket) in.  Moet dit nie misloop nie!

#lopies #leggings #liefde

unretouched_51
Christopher van der Westhuizen (Foto:verskaf)
Advertisements

One Comment Add yours

  1. Quintin sê:

    Christopher is n baie unieke en spesiale persoon! Mag hy geseën wees in sy loopbaan! Hou Koers ou maat. Vriende is tydelik, familie is vir altyd.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s